1. Agtergrond van die Mattheus Evangelie geskryf ongeveer 80 nC (Sien verwysing 8 van Jesus se Kronieke)
Matteusevangelie gee ’n besondere boodskap vir vandag. Dit daag ons uit om die wil van God voluit te doen. Hoor wat sê Jesus vir sy dissipels (
Matteus is baie lief om daarop te wys dat dit wat die Here deur profete gesê het, uitgekom het en vervul is (bv 1:22; 2:15, 17). Met hierdie aanhalings uit die Ou Testament word bevestig dat wat nou in Jesus Christus gebeur, deel van God se totale verlossingsplan met die wêreld is. Dit het begin in Israel, word voortgesit in Christus en vind sy voltooiing aan die einde van die tyd.
Daar is heelwat aanduidings dat die Matteusevangelie deur ’n Jode-Christen vir ’n oorwegend Joods-Christelike gemeente, waarskynlik in Antiogië in die destydse Sirië, geskryf is. Handelinge 11, 13 en 15 vertel van ’n bloeiende Christelike gemeente in Antiogië. Die feit dat Ignasius, biskop van Antiogië, so vroeg soos ongeveer 100 nC reeds bekend was met die Matteusevangelie, lê ook ’n sterk band tussen dié boek en Antiogië.
Die Joodse karakter van die Evangelie blyk duidelik uit die hoë premie wat op die wet en die uitleef daarvan geplaas word. Matteus 5:17-20 vermeld byvoorbeeld dat die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly. Dit sê verder dat die dissipels se getrouheid aan die wet selfs dié van die skrifkenners en Fariseërs moet oortref. Dis egter ook opvallend dat die Matteaanse gemeente in ’n stryd verkeer met hulle Joodse volksgenote. Matteus 23, waar Jesus ’n striemende aanval op die huigelary van die Fariseërs loods, wys iets hiervan. Verder verwys Matteus verskeie kere na hulle sinagoges of skrifkenners (4:23; 7:29; 10:17), waaruit die verwydering tussen Jode-Christene en Jode duidelik blyk. Laasgenoemde teks laat ’n mens selfs vermoed dat die gemeente deur die Jode vervolg is.
Matteus beskryf Jesus as Immanuel; as God-by-ons. Op drie strategiese plekke word dit pertinent genoem: by die aankondiging van Jesus se geboorte (1:23), wanneer die dissipels gesagvol optree in sy Naam (18:20) en wanneer Jesus sy dissipels die wêreld instuur (28:20). Hierdie tipering van Jesus roep die Ou-Testamentiese verbondsgedagte op dat God tussen sy mense woon. In die gemeente se stryd met die Jode beklemtoon Matteus dus dat God ’n nuwe volk (die volgelinge van Jesus, 21:43) tot stand bring, dat Hy ’n verbond met hulle sluit soos met Ou Israel en dat Hy by hulle is. Verder beklemtoon dit dat Jesus die onbetwiste leier is. Nie die skrifkenners nie, maar Jesus vertolk nou gesaghebbend die wil van God (7:28-29).
Daadgeregtigheid, Matteus lê baie klem op die doen van God se wil (5:17-20; 7:21). Dit moet verstaan word teen die agtergrond van die Matteaanse* gemeente se stryd met die Jode. Waarskynlik was daar beskuldigings van laasgenoemde se kant dat die Jode wat volgelinge van Jesus is, nie erns maak met die wet van God nie. Matteus se nadruk op wetsonderhouding bestaan egter nie uit die nakom van rituele* en voorskrifte nie (hoewel laasgenoemde op sigself nie verkeerd is nie), maar vind sy vreugde in die uitleef van die liefdeswet (22:34-40; 23:23). Wie naby aan die nood van sy naaste leef, begin verstaan waarop dit in die wet van God aankom (18:31-35; 25:34-40).
Nie net Jode nie, maar ook nie-Jode Dis moeilik om te besluit waar die swaartepunt in Matteus se sendingopdrag lê: by die Jode of die nie-Jode? In 10:5-6 stuur Jesus sy dissipels uitdruklik na die Jode toe, maar in 28:19-20 plaas Hy die wêreld op hulle agenda. Hierdie dubbele opdrag hou mekaar in spanning in die boek. Dit wys waarskynlik iets van die Matteaanse* gemeente se omstandighede. Aanvanklik was hulle gerig op hulle Joodse volksgenote; ’n nuwe roeping het egter toenemend na vore getree: die nie-Jode. Die heidensending figureer deur die hele Evangelie en is nie ’n blote nagedagte nie. In die uitleg sal die aandag meermale hierop gevestig word.
2. Agtergrond van die Markus Evangelie geskryf 65-70 nC
Daar is mense wat dink dat dit met Christene altyd goed moet gaan. Daar is selfs mense wat beweer dat Christene altyd op alle gebiede suksesvol en voorspoedig sal wees. As jy egter die Markusevangelie deeglik lees, sien jy dat dit nie so is nie. Die boodskap van dié Evangelie sê presies die teenoorgestelde: Wie Jesus wil volg, moet bereid wees om swaar te kry! Hoekom sal ’n mens dan die moeite doen om Jesus te volg as dit swaarkry tot gevolg het? Markus gee vir ons ’n baie goeie rede. Hy sê dat die mense wat werklik gelowig besef wie Jesus is, nie anders kan as om Hom te volg soos Hy gevolg wil word nie. Wie is Jesus dan? Volgens Markus is die fantastiese nuus dat Jesus eintlik die Seun van God is. Ja, God het sy eie Seun na die wêreld gestuur.
Anders as wat baie mense destyds gedink het, het God se Seun nie gekom om te kom heers of selfs om die Romeine “reg te sien” nie. (Dit was vir die dissipels baie moeilik om dit te verstaan.) Markus wys vir ons dat Jesus om ’n ander rede na die wêreld gekom het. Hy het gekom om te ly en te sterf. Sy lyding aan die kruis is dus eintlik die bewys dat Hy die Seun van God is. Wie dít alles gelowig begryp, besef dadelik: As Jesus, die Seun van God, moes ly en sterf, kan ek nie daarop aanspraak maak om ’n lekker, kommervrye lewe te hê nie. Nee, ek moet bereid wees om my selfsugtige ambisies prys te gee, my kruis op te neem en agter Hom aan te kom (
Daar bestaan min twyfel oor die feit dat hierdie Evangelie geskryf is deur ’n persoon met die naam Markus. Oor presies wie hierdie Markus was, is daar egter onsekerheid. (Markus was in daardie tyd ’n baie algemene naam.) Daar is sommige kenners wat daarvan oortuig is dat dit dieselfde Markus is van wie ook op ander plekke in die Nuwe Testament gepraat word. So byvoorbeeld word in Handelinge 12:12 gepraat van ’n Johannes Markus wat ’n medewerker van Paulus was en in 1 Petrus 5:13 word daar ook na ’n Markus verwys. Onlangse navorsing het egter gewys dat dit onwaarskynlik is dat dit hierdie Markus is wat die Markusevangelie geskryf het. Ons moet dus aanvaar dat ons nie presies weet wie Markus was nie. Ons weet ook nie waar Markus sy Evangelie geskryf het nie. Dit kon moontlik in Rome of in die Romeinse provinsie Sirië gewees het. Daar is egter wel ’n paar sake waaroor daar meer sekerheid is. Al weet ons nie presies wie Markus was nie, blyk dit uit sy Evangelie dat hy waarskynlik ’n Joodse Christen was en dat Grieks nie sy moedertaal was nie.
Dit is verder duidelik dat die Markusevangelie waarskynlik heel eerste geskryf is, nog vóór die Matteus- en die Lukasevangelie. ’n Mens kan ook die afleiding maak dat Markus sy Evangelie so teen 65-70 nC geskryf het. In die 35 tot 40 jaar wat reeds op daardie stadium verloop het vanaf Jesus se opstanding is die woorde en dade van Jesus meestal mondelings oorvertel. Wanneer Markus sy Evangelie skryf, maak hy ruimskoots gebruik van hierdie mondelinge oorvertellings, asook waarskynlik van enkele kleiner skriftelike weergawes. Dit is egter belangrik om te besef dat hy dit nie alles bloot net so gaan sit en opskryf nie. Onder die leiding van die Heilige Gees verwerk hy dit alles tot ’n pragtige, meesleurende verhaal oor Jesus, die lydende Seun van God.
Miskien het jy al agtergekom dat daar besonder baie ooreenkomste tussen die Markus-, Matteus- en Lukasevangelie is. Hiervoor is daar ’n baie goeie rede. Die skrywers van Matteus en Lukas het waarskynlik van Markus gebruik gemaak toe hulle hulle Evangelies geskryf het en albei het groot dele uit die Markusevangelie oorgeneem. ’n Mens kan dus verwag dat daar groot ooreenkomste tussen dié drie Evangelies sal wees. Dit beteken egter nie dat hulle al drie maar min of meer dieselfde sê nie. Die skrywers van Matteus en Lukas het baie ander gegewens bygewerk wat nie in Markus voorkom nie. Selfs op die dele wat hulle by Markus oorgeneem het, het hulle elkeen hulle eie, kenmerkende stempel afgedruk. Om een voorbeeld te noem: In sy beskrywing van Jesus probeer Markus voortdurend beklemtoon dat Hy die lydende Seun van God is. By die Matteus- en Lukasevangelie kry ’n mens natuurlik op baie plekke dieselfde gedagte, wat daarop dui dat dié Evangelies op Markus gebaseer is. Tog is dit opvallend dat dié aspek vir hulle nie so belangrik as vir Markus is nie. Vir die skrywer van Matteus is dit byvoorbeeld belangriker dat Jesus die langverwagte Joodse Messias is. Op sy beurt beklemtoon die skrywer van Lukas weer dat Jesus die universele Verlosser is. Dus: Al vertel al vier Evangelies (as ons die Johannesevangelie ook byreken) vir ons van dieselfde Jesus, doen elkeen dit op sy eie, kenmerkende manier. Die uitdaging wat aan jou gerig word, is om te leer om fyn na elkeen se boodskap te luister sodat jy kan agterkom watter sake elkeen beklemtoon. Wie dit probeer, sal beloon word met ’n magdom verrykende insigte.
3. Agtergrond van die Lukas Evangelie geskryf 80-110 nC
Ons leef in ’n deurmekaar wêreld waarin mense onseker is oor wat die toekoms inhou. Die nuus op die TV en in die koerante handel meestal oor die lelike dinge in die wêreld. Daar is dikwels min wat positief en mooi is om aan te bied. Daarom wil mense graag weet of daar iemand is wat ’n plan of ’n oplossing het vir hulle onsekerhede en vrees. Moet ons maar aanvaar dat die wêreld ’n wrede plek is met min hoop op verbetering?
Lukas vertel vir ons in sy verhaal dat daar wel Iemand is wat omgee en ’n goeie plan vir die wêreld se ellende het. In teenstelling met die media van vandag, bring Lukas vir ons wel goeie nuus van Iemand wat die geluk en voorspoed van die mensdom op die hart dra. Hierdie Iemand is God, die Skepper van die heelal, wat eeue gelede reeds sy plan van bevryding en geluk aan ons bekendgemaak het. Die persoon wat Hy gebruik het om hierdie verlossingsplan aan ons te verduidelik is Jesus wat as die seun van ’n Joodse skrynwerker in die onbeduidende dorpie Nasaret grootgeword het.
Lukas vertel vir ons die verhaal van hierdie plan van God wat Hy in Jesus bekendgestel het. Ons kan vandag nog verstaan wat God vir ons sê, juis omdat Hy mens geword het. As mens het Jesus ook hartseer geken; Hy was ook eensaam en selfs vertwyfeld, maar Hy was bereid om gehoorsaam te wees aan God se verlossingsplan.
Die hoofdele van die boek Lukas vertel sy Evangelie in die vorm van ’n verhaal. ’n Verhaal is een van die beste maniere om iemand van ’n saak te oortuig. Mense laat hulle nie graag voorsê oor wat hulle moet doen nie, maar met ’n mooi verhaal kan ’n mens baie regkry. Lukas beskryf daarom die lewensloop van Jesus in die vorm van ’n verhaal. Hy doen presies wat Jesus gedoen het: Jesus het dit wat Hy aan die mense wou sê, in die vorm van voorbeelde (of voorbeeldverhale/gelykenisse) vertel. Hy het nie geleerde argumente of ’n teologiese betoog gebruik om mense te oortuig nie. Hy het eenvoudige verhale uit die alledaagse lewe gevat om die waarheid wat Hy wou tuisbring, te verduidelik. Net so het Lukas die waarheid oor Jesus in die vorm van ’n verhaal beskryf.
Voordat hy by sy verhaal uitkom, gee Lukas eers ’n kort inleiding van vier verse (1:1-4) oor wat sy doel met die verhaal is, watter metode van ondersoek hy gebruik het om sy inligting te bekom, en hoe hy die verhaal saamgestel het. Dit was gebruiklik onder goeie skrywers om met so ’n inleiding aan hulle lesers te kenne te gee dat hulle goeie wetenskaplike werk gedoen het – dit was nie ’n storietjie wat hulle uit die duim gesuig het nie. Die res van die Evangelie bestaan uit afsonderlike verhale wat weer op hulle beurt uit klein, los verhaaltjies (perikope of paragrawe) bestaan.
Lukas beklemtoon egter dat hy sy eie navorsing gedoen het en sodoende sy eie verhaal saamgestel het. In sy eie woorde het hy alles self stap vir stap van voor af ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde neergeskryf (1:2-3). In die groot middeldeel van die Evangelie (9:51 – 19:28) tref ons ’n lang beskrywing aan van Jesus se laaste reis na Jerusalem wat hoofsaaklik bestaan uit materiaal wat ons nie in die ander Evangelies aantref nie. Hierdie gedeelte bestaan hoofsaaklik uit Jesus se onderrig en bevat feitlik geen wonderwerke nie. As ’n mens die gedeelte lees, kom jy agter hoe Lukas jou aanmoedig om die uitnodiging wat Jesus in die verhaal tot sy hoorders rig, self ook te aanvaar. Die feit dat Jesus op pad is na sy dood in Jerusalem bring ’n sekere dringendheid na vore in sy onderrig en sy oproep tot mense om Hom te volg.
Die Lukas se verhaal van Jesus van Nasaret in die hoofsaaklik Joodse deel van die groter wêreld van destyds af. In hierdie wêreld het eer en skande ’n baie belangrike rol gespeel in die waardes van mense. Dit is dan ook binne hierdie waardesisteem dat ons die Evangelie van Lukas moet verstaan.
In Jesus se tyd was daar omtrent drie tot vier miljoen Jode in die lande rondom die Middellandse See. In Palestina self was die getal ongeveer ’n halfmiljoen, waarvan omtrent 6 000 Fariseërs was en ’n paar honderd Sadduseërs. Terwyl die Romeine die oorheersende politieke en militêre mag in die gebied was, het die Joodse koningshuis tog sekere volmag gehad. In Jerusalem het veral die Joodse Raad (Sanhedrin) die godsdienstige septer geswaai. Veral in die provinsie Judea het die Joodse godsdienstige leiers die botoon gevoer. In Galilea (waar, volgens Lukas, ’n groot deel van Jesus se bediening afspeel), was die mense onafhankliker van Jerusalem se godsdienstige leiers en ook van die Romeine se politieke oorheersing. Geen wonder dat Jesus se bediening hier gekonsentreer was en ook hier die meeste sukses onder die bevolking gehad het nie.
4. Agtergrond van die Johannes Evangelie geskryf tussen 90 en 100 nC
Die Evangelie is nie bedoel om ’n volledige geskiedenis van die lewe van Jesus te wees nie. Dit geskryf is met ’n beperkte doel: om mense te laat glo dat Hy die Messias, die Seun van God is, en só die ewige lewe te laat kry volgens
Sekere van Jesus se woorde en dade het in die gemoedere van die Johannes se gemeente aktueel gebly. Dele van die Evangelie is waarskynlik eers teen die tweede helfte van die eerste eeu op skrif gestel (waarskynlik eers die wonders en miskien van die woorde van Jesus). Aan die einde van die eerste eeu (tussen 90 en 100 nC) is die Evangelie finaal op skrif gestel soos ons dit vandag het.
Toe van die mense wat alles eerstehands ervaar het, begin sterf, is die woorde en dade van Jesus in die Evangelie neergeskryf. Dit het dus oor ’n periode van baie jare gegroei. Johannes, die apostel van die Here, het waarskynlik as die waarborg van die waarheid van die Evangelie ingestaan en was die een wat alles van Jesus mooi onthou en oorvertel het. Ons kan dus sê dat hy die skrywer was. Daarom word die outeurskap gekoppel aan die lieflingdissipel, wat moontlik Johannes kon wees.
Johannes is ’n Evangelie, maar verskil van die ander drie Evangelies in taal en inhoud. In Johannes praat Jesus van waarheid en leuen, lig en duisternis, die ewige lewe wat ons nou reeds kan hê, die Seun wat van die “bo” na die “onder” kom en so aan. Dit klink anders as die ander drie. Boonop vertel Johannes byvoorbeeld van Lasarus en die Samaritaanse vrou wat nie in die ander Evangelies voorkom nie. Die ander Evangelies vertel weer van die uitdrywing van bose geeste, die gesondmaking van melaatses en die instelling van die nagmaal, waarvan Johannes ons niks vertel nie. By Johannes jaag Jesus die handelaars in hoofstuk 2 uit die tempel en nie net voor die kruisiging soos by die ander drie Evangelies nie.